Monday 20 September 2010

Braai 4 Heritage 2010 - Sosaties

My tweede Afrikaanse post. Net betyds vir Nasionale Braaidag. Ek het nou al soveel keer op hierdie blog gebrag met die sosatie kompetisie wat ek in die Sarie-Kos gewen het, maar ek het nog nooit die resep gepos nie. Hier is die storie wat ek bygeskryf het om die redakteurs se aandat te trek en die resep aan die einde Sarie het my storie bietie ge-edit, maar hier is die oorspronklike soos ek dit ingestuur het. As ‘n mens darem op ‘n Saterdag so by ‘n kleindorpie Boeremark rondloop, kan die reuk van sosaties wat braai by die Hervormde Kerk se stalletjie jou lelik honger maak. Synde dat die Susters by die Hervormde Kerk egter nie hulle geheime resep wil deel nie, het ek besluit om my eie te ontwikkel vir hierdie kompetisie. Ek wou al lankal deelneem, maar ek het nie ‘n lekker melktert resep nie en hoewel ek ‘n lekker tamatie en uiesmoor maak, is dit niks uitsonderlik nie. Ek het wel ‘n ou beproefde familieresep vir sosaties, maar ek het besluit om ook aan die voete van Gamaliël te gaan sit en kers opsteek. Ja, ek het besluit om die Groot Gewere te raadpleeg. So vervolgens die Groot Gewere wie ek geraadpleeg het en hoekom: 1. Mevrou S. Van H. Tulleken. Haar boek, Die Praktiese Kookboek vir Suid-Afrika was die eerste resepteboek wat, sover as wat ek kan agterkom, in Afrikaans gepubliseer is. Die voorwoord deur Tannie Isie Smuts is gedateer Desember 1922. Ek kry partykeer ‘n baie groot knop in my keel as ek my kopie van hierdie boek deurblaai. Dit het oorspronklik aan my Ma se Tannie Debora Baasden behoort. Tannie Debora, of Tan soos ons haar genoem het, se teenwoordigheid is aanvoelbaar in die boek. Oral val ou poskaarte van Rhodesië en troukaartjies van vergete familielede uit waarop Tan haastig resepte neergeskryf het. Ook het Tan ‘n baie duidelike regmerk gemaak by resepte van Mev. Van Tulleken wat sy gereeld met sukses gemaak het. Mevrou van Tulleken het drie pond vleis gebruik haar resep en sy praat nog van knoflok. 2. S.J.A. de Villiers. Jou Ouma se Kook en Geniet was blou-groen, jou Ma s’n was rooi en joune het ‘n volkleurfoto van gebraaide skaapboud op die voorblad. Daar is twee resepte vir sosaties in – een gewoon en een grootmaat. 3. Sannie Smit. Sannie was die destydse hoof huishoudkundige by die Vleisraad gewees. Sy kon nou vir jou ‘n stuk vleis gaarmaak! Ek wens ek het die Afrikaanse uitgawe gehad, maar ek is steeds dankbaar vir my All Colour South African Cookbook wat ek in ‘n tweedehandse boekwinkel opgespoor het. Voor in die boek in blou ink drukskrif staan geskryf: “To our Mother on the occasion of our first Christmas 1985 in South Africa. All our love. David and Ian.” Te wyte aan die baie spatsels op die bladsy vir Roast Beef & Yorkshire Pudding was die Tannie helaas meer partydig teenoor die kos van die land van haar herkoms. Ewenwel, Sannie se resep was die inspirasie vir die ‘dubbel gemarineerd’. 4. Cass Abrahams. Die oorsprong van die sosatie is immers Kaap-Maleis. Cass het Kaap-Maleis weer op die map geplaas en blykbaar is Madiba gaande na haar kos. Cass bedien die sosaties op rys met die marinadesous bo-oor geskep. 5. Annette Human. Hier praat ons van snelvuur grofgeskut. Hier praat ons van een van die heel grootste invloede van wat op tafels reg oor die land verskyn het. Sonder Annette Human het ons almal nog elke aand rys, vleis en aartappels met two veg geëet. Annette het voormalige kontinuïteitsaanbieder en TV persoonlikheid Rita van den Heever se sosatieresep met ons gedeel. Intussen het Carmen Niehaus Wenresepte bewonderingswaardig opgedateer vir die Nuwe Millennium. 6. Shirley Guy & Marty Klinzman – Die Suid-Afrikaanse Braaiketel-Kookboek. Ons Afrikaanse mans is koning agter die rooster, maar hier is twee Engelse Anties wat ook kán braai! Hulle maak hulle sosaties eers op die indirekte metode in ‘n braaiketel gaar, waarna hulle dit vinnig direk op die kole sit vir die “tradisionele swart puntjies”. 7. My Tannie Julie. Hare is die familieresep. Volgens Tannie Julie is die geheim dat die uie goed moet braai. Tannie Julie gebruik ook blatjang in haar resep. 8. Skoonma Toekie. Nie haar sosatieresep nie, maar die sous vir haar kerrievis. Ma Toeke se kerrievis is selfs lekkerder as wat my Ouma Rosie s’n was! Nou moet julle weet! 9. Cook Sister. Jeanne Horak-Druif is ‘n Suid-Afrikaner wat in London woon en haar internet blog genaamd ‘Cook Sister’ is ongelooflik suksesvol. Sy neem ook watertand fotos van haar disse en ek-wens-ek-was-daar fotos van die plekke wat sy besoek. Cook Sister is al verskeie kere bekroon by die jaarlikse South African Blog Awards. In 2009 het sy weer met die prys vir die beste kos-blog weggeloop. In Cook Sister se fassinerende blog inskrywing van 15 September 2006 deel sy ‘n ene Cecil se sosatieresep met haar lesers en skryf sy oor die etimologie van die woord ‘sosatie’ asook oor die oorsprong van die sosatie self. Boerekos met ‘n naam wat Indonesies klink en wat Midde-Oosters proe? Cook Sister het ook háár ghoeroe geraadpleeg en hulle bespiegel... Gaan lees gerus. http://cooksister.typepad.com/cook_sister/2006/09/scenes_from_a_b_1.html Van die wat ek hier genoem het leef nog, ander is al dood. Van hulle is trendsetters gewees en ander die trendsetters van môre. Van hulle lewe voort in vergeelde bladsye en ander sweef in cyberspace. Van hulle is bekend en ander nie, maar dis by hulle almal wat ek inspirasie vir my resep gekry het. Daar is nog baie ander groot kos gewere in Suid-Afrika... Nettie Pikeur, Peter Veldsman, Pieter Pieterse, C. Louis Leipoldt, Lannice Snyman, Braam Kruger, Nataniël, Topsy Venter, Reuben Riffel, Prue Leith, Leatitia Prinsloo, my Ma By en nog te veel om op te noem. ‘n Ander dag vir bobotie of koeksusters of ‘n ietsie anders hoor ek weer by hulle. Mens moet jou bronne op die internet ook mooi kies. Wikipedia reken dat daar tamarinde pasta by die sosatiemarinade kom. Nee wat, sê ek, hou die tamarinde pasta vir Denningvleis. Selfs die Larousse Gastronomique maak melding van sosaties in die inskrywing oor Afrique du Sud. So na al die verstommende inspirasie wat ek by die Groot Gewere opgedoen het, het ek my hart gevolg met die resep en gehoop ek verstaan vir Sarie reg – ons soek iets wat duidelik herkenbaar is as ‘n sosatie en nie ‘n ander gerygde ding soos ‘n kebab of espatada nie, ons soek ietsie uniek en ons soek daardie persoonlike stempel. So gaan kuier vroulief, Lam en my rooikop baba by Ouma Ooi in Klerksdorp. Ek sit met my Tupper Marinade bak vol sosaties alleen by die huis. Kennelik is my homeboy Oorwinnaar, mos die beter braaier en kort voor lank staan ons voor sy braai en die wonderlikste sosatie rook vul Vereeniging se winterkoue aandlug. (Gits, nou klink ek soos Riaan Cruywagen in die Bronx!) Die glas Laborie Shiraz in my hand is voorbarig diep en spesery en laat hom nie deur ‘n sosatie intimideer nie – die perfekte drink en eet kombinasie! En die sosatie? Hy proe soos sosatie met nog iets mistiek en subtiel en absoluut murgsag! Die ‘dubbel gemarineerd’ te danke ja! Ek is tevrede en ek en Nico sit tot laatnag en vertel Langenhoven stories en wens ons het ‘n Mercedes Gull-wing of ‘n lekker muscle car Chev of Ford gehad wat hard brul. Ons bly nie verniet in V-Town nie. Vriend Oorwinnaar se vrou Rowwe Eiland het vergeet om vir Belinha te laat weet ons eet sosaties vanaand en sy moenie kook nie, so vir bykos het ons gestoofde skaapnek, patats, wortels en aartappels gehad en tuisnywerheid melktert vir nagereg. Hoekom nie? So, na ek hom nou ook geproe het, uiteindelik my resep: Wenke: · Moenie die blokkies vleis te klein sny nie. (Maar nou ook nie hompe nie) · Gebruik eerder hout of bamboes stokkies (skewers) as metal (die vleis gly rond op metaalpenne en draai dan moeilik om). · Onthou om ook die stokkies oornag in water te week – dan brand hulle nie maklik nie. · Moenie die blokkies vleis te styf op die stokkies ryg nie. · Braai op ‘n rooster oor ‘n vuur. Jy gaan nie naby dieselfde resultate in ‘n pan, in die oond of op ‘n braaiplaat kry nie. Resep – Vleis (gebruik goeie gehalte vleis, daar is niks so teleurstellend soos taai seningrige sosaties nie) 1 kg lamsboud ontbeen en in blokkies gesny 1 kg bees kruisskyf in blokkies gesny (ons rek hom – ontbeende lamsboud is baie duur) 200 g varkspek in dun skyfies gesny Marinade 1 (hiermee doen ons ‘n bietjie opdatering met ‘n effense Indiese inslag) 500 ml natuurlike ongegeurde joghurt 2 huisies knoffel fyngedruk 10 ml garam masala sap en gerasperde skil van ‘n halwe suurlemoen (my stempel – ek is gek na suurlemoene en gebruik dit graag in kos) Marinade 2 (vir daai lekker outydse sosatie smaak) 3 groot uie in ringe gesny 125 ml fyn appelkooskonfyt 250 ml perske- of vrugteblatjang 500 ml bruin asyn 250 ml rooibostee (vir ‘n bietjie balans, die marinade is baie skerp) 45 ml matige kerriepoeier 20 ml borrie 10 ml fyn gemmer 20 ml koljandersade fyngestamp 5 heel naeltjies 3 lourierblare gebreek sap en gerasperde skil van ‘n halwe suurlemoen (ons stempel hom sommer weer) 10 ml sout 75 ml kookolie Gedroogde appelkose vir tussenin (opsioneel – party hou daarvan ander nie) Metode Meng al die bestandele vir die eerste marinade. Gooi die vleis by en maak seker dat die marinade al die blokkies vleis goed bedek. Marineer oornag in die yskas. Maak solank die tweede marinade en hou in ‘n lugdigte houer in die yskas tot die volgende dag benodig. Braai die uie in die olie stadig oor lae hitte tot deurskynend, maar nie bruin. Voeg kerrie, borrie, gemmer, koljander, naeltjies, sout en lourierblare by. Volg dan met suurlemoen sap en skil, appelkooskonfyt, blatjang, asyn en rooibostee. Prut stadig vir so 15 minute en laat goed afkoel. Sodra die vleis oornag in die eerste marinade gelê het, meng tweede marinade by en marineer weereens oornag. Ryg die blokkies vleis op sosatiestokkies en probeer om die bief en lam blokkies af te wissel en ‘n skyfie varkspek so tussen elke tweede, derde blokkie. Weereens, dis sosaties die, nie kebabs nie, so persoonlik sal ek nie nog pynappel, uie, groen- of rooipeper stukke tussenin sit nie. Dalk nog gedroogde appelkose, maar onthou om dit ook in rooibostee te week as dit nie van die sagte Turkse soort is nie. Ek het lang stokkies gebruik en so ‘n dosyn lekker groot sosaties uitgekry. Braai die sosaties stadig oor matige kole tot deurgaar maar nog sappig binne en mooi bruin buite. Onthou die baie suiker van die appelkooskonfyt en blatjang in die marinade brand maklik aan. Nog bietjie sout kan oorgestrooi word terwyl die sosaties braai. Bedruip ook met nog ‘n bietjie van die marinadesous terwyl dit braai. Dien op met jou gunsteling braai bykos.

2 comments:

AngelConradie said...

Very cool post dude! No wonder they liked it!
I make my mac-n-cheese the way Mevrou van Tulleken makes it! My daddy darling has her recipe book too!

Unknown said...

Thanks Angel! You are my best commenterer!